• Die Roepman en Lynloper. Karoo. Windpomp. Sonsondergang. Verblyf. Beaufort-Wes

Die Roepman & Lynloper

Die Roepman is 'n pragtige, luukse twee slaapkamer kothuis wat slaapplek bied aan 4 volwassenes. Die slaapkamers is albei toegerus met dubbelbeddens, afgewerk met duursame linne. Elk van die slaapkamers het sy eie badkamer met ʼn heerlike groot stort. Die oopplan sit / leefkamer is keurig toegerus met bypassende kontemporêre en antieke meubels. ʼn Vuurherd / binne braai, asook ʼn gietyster stofie sorg vir ʼn knus atmosfeer gedurende die koue winteraande.

Reg langs die Roepman is die ‘Lynloper’, eens ʼn eenvoudige bywoners huisie. Die Lynloper is ʼn romantiese eenslaapkamer eenheid met groot luukse badkamer, toegerus met kosbare antieke meubels en duursame linne. Hierdie eenheid word saam met die Roepman bemark as ʼn derde kamer, alhoewel dit steeds heerlik privaat is.

Die kombuis is volledig toegerus met ʼn yskas, gasstoof, mikrogolfoond en alle nodige kookgerei. Die voorstoep bied 'n lieflike uitsig oor die Karoo, met ʼn braai-area en ʼn plonspoel [splashpool] vir afkoel tydens die warm somerdae. Vanaf die agterstoep kan jy wag vir die trein om verby te ry en jy kan selfs ʼn plaasbrood bak in die buite bakoond.

ʼn Lekker groot skoon plaasdam langs die eenheid bied ʼn koel lafenis tydens die warm karoo son. Die eenheid is ook toegerus met lugversorgers in elke vertrek en is nie afhanklik van die Eskom krag netwerk nie (son energie stelsel).